Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:17-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.

18. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.

19. Daar het toe weer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde.

20. En baie van hulle het gesê: Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig; wat luister julle na Hom?

21. Ander het gesê: Hierdie woorde is nie van ’n besetene nie; ’n duiwel kan tog nie die oë van blindes open nie.

22. EN dit was die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter.

23. En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo.

24. En die Jode het Hom omring en vir Hom gesê: Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit.

25. Jesus antwoord hulle: Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My.

26. Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.

27. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

28. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

29. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

30. Ek en die Vader is een.

31. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10