Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:31-49 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

31. En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.

32. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.

33. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.

34. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.

35. DIE volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels;

36. en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!

37. En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.

38. En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle:

39. Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi — dit wil sê, as dit vertaal word, Meester — waar is U tuis?

40. Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur.

41. Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het.

42. Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind — dit is, as dit vertaal word, die Christus.

43. En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.

44. Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My.

45. En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus.

46. Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.

47. En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk.

48. Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.

49. Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1