Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:16-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.

17. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

19. En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u?

20. En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie.

21. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee.

22. Toe sê hulle vir hom: Wie is u? — dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?

23. Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.

24. En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs.

25. En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?

26. Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie —

27. dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.

28. Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

29. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

30. Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ’n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.

31. En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1