Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:2-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

3. Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

4. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

5. En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie;

6. want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

7. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?

8. Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.

9. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?

10. Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.

11. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.

12. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;

13. en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

14. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

15. en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

16. Laat niemand ’n hoereerder wees nie, of ’n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

17. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.

18. Want julle het nie gekom by ’n tasbare berg nie en ’n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm

19. en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie —

20. want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ’n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ’n pyl neergeskiet word.

21. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12