Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:18-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Want julle het nie gekom by ’n tasbare berg nie en ’n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm

19. en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie —

20. want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ’n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ’n pyl neergeskiet word.

21. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.

22. Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele,

23. by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,

24. en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

25. Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.

26. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.

27. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.

28. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.

29. Want onse God is ’n verterende vuur.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12