Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:15-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.

16. Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.

17. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer,

18. aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek;

19. daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.

20. Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21. Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf.

22. Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente.

23. Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie.

24. Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word,

25. omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê,

26. en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.

27. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.

28. Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.

29. Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11