Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:8-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En daar was groot blydskap in daardie stad.

9. En ’n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was.

10. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God.

11. En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle ’n geruime tyd deur sy towerye verbyster het.

12. Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.

13. En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.

14. En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.

15. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,

16. want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.

17. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18. En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied

19. en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.

20. Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.

21. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8