Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:9-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom

10. en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.

11. En ’n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie.

12. En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur.

13. En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword.

14. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele.

15. En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders.

16. En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir ’n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem.

17. En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met ’n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte,

18. totdat daar ’n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie.

19. Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.

20. In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg;

21. en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak.

22. En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.

23. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek;

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7