Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE sê die hoëpriester: Is hierdie dinge dan so?

2. En hy sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het,

3. en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys.

4. Toe het hy getrek uit die land van die Chaldeërs en in Haran gaan woon; en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waarin julle nou woon.

5. En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie ’n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie.

6. En God het aan hom dít gesê, dat sy nageslag bywoners in ’n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vierhonderd jaar lank.

7. En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.

8. En Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders.

9. En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom

10. en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7