Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:23-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. En hulle het vir hom ’n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in ’n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.

24. En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.

25. En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek

26. en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

27. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

28. Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.

29. En toe hy dit gesê het, het die Jode, onder groot woordestryd met mekaar, weggegaan.

30. En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het,

31. terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28