Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:3-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang.

4. En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was.

5. Ons het daarop die see langs Cilícië en Pamfílië deurgevaar en by Mira in Licië aangekom.

6. En daar het die hoofman oor honderd ’n skip van Alexandríë gevind wat na Italië vaar, en ons daarop laat oorklim.

7. En verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmóne.

8. En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by ’n plek wat genoem word Mooi Hawens, in die nabyheid waarvan die stad Laséa is.

9. En omdat ’n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku

10. en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe.

11. Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus;

12. en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, ’n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste.

13. En toe die suidewind saggies waai, het hulle gedink dat hulle hul voorneme kon uitvoer en die ankers gelig en langs Kreta verbygeseil.

14. Maar nie lank daarna nie het ’n stormwind wat Euroklídon genoem word, daarvandaan neergeslaan.

15. En toe die skip meegesleep is en nie teen die wind op kon seil nie, het ons dit opgegee en weggedrywe.

16. En toe ons onderkant ’n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou.

17. En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe.

18. En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi;

19. en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27