Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 25:13-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. EN ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet.

14. En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is ’n man deur Felix as gevangene agtergelaat,

15. teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, ’n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.

16. En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.

17. Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring.

18. Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie,

19. maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor ’n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.

20. En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan;

21. maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.

22. En Agríppa sê vir Festus: Ek sou self ook graag die man wil hoor. Toe antwoord hy: Môre sal u hom hoor.

23. Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.

24. Toe sê Festus: Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie.

25. Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.

26. Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agríppa, sodat ek ná die ondersoek iets kan skrywe.

27. Want dit lyk vir my onredelik om ’n gevangene te stuur en nie die beskuldiginge teen hom aan te dui nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 25