Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:9-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En hy het vier ongetroude dogters gehad wat die profetiese gawe besit het.

10. En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het ’n sekere profeet met die naam van Ágabus van Judéa afgekom.

11. En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dít spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer.

12. En toe ons dit hoor, het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie.

13. Maar Paulus het geantwoord: Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus.

14. Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons tevrede en het gesê: Laat die wil van die Here geskied!

15. En ná hierdie dae het ons vir die reis klaargemaak en na Jerusalem opgegaan.

16. En sommige van die dissipels van Cesaréa het ook saam met ons gegaan en ons by ’n sekere Mnason van Ciprus gebring, ’n ou dissipel, by wie ons sou tuis gaan.

17. En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang.

18. En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig.

19. En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het.

20. En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet.

21. En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie.

22. Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het.

23. Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ’n gelofte gedoen het;

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21