Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:30-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

30. Toe kom die hele stad in beweging, en daar was ’n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit.

31. En onderwyl hulle probeer om hom dood te maak, het ’n berig die owerste oor duisend van die leërafdeling bereik dat die hele Jerusalem in oproer was.

32. En hy het meteens soldate en hoofmanne oor honderd geneem en afgehardloop na hulle; en toe hulle die owerste oor duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan.

33. Daarop kom die owerste oor duisend nader en neem hom gevange en gee bevel dat hy met twee kettings geboei moet word; en hy het gevra wie hy was en wat hy gedoen het.

34. En onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskreeu. En omdat hy weens die rumoer geen sekerheid kon verkry nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word.

35. En toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die geweld van die skare.

36. Want die menigte van die volk het gevolg en geskreeu: Weg met hom!

37. En net toe hy in die kamp gebring sou word, vra Paulus die owerste oor duisend: Is dit my geoorloof om iets vir u te sê? En hy sê vir hom: Ken jy Grieks?

38. Is jy dan nie die Egiptenaar wat ’n tyd gelede oproer gemaak het en die vierduisend rowers na die woestyn uitgelei het nie?

39. En Paulus antwoord: Ek is ’n Joodse man van Tarsus, ’n burger van geen onvermaarde stad in Cilícië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek.

40. En toe hy dit toegelaat het, gaan Paulus op die trappe staan en wink met die hand vir die volk. En nadat daar ’n groot stilte gekom het, het hy hulle in die Hebreeuse taal toegespreek en gesê:

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21