Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20:28-38 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.

29. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.

30. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.

31. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.

32. En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ’n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.

33. Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie;

34. maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was.

35. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

36. En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid.

37. En daar het ’n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen,

38. veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip begelei.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 20