Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.

2. En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.

3. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.

4. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

5. En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.

6. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek;

7. en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galiléërs nie?

8. En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?

9. Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië,

10. Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote,

11. Kretense en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.

12. En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?

13. Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn.

14. MAAR Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde.

15. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2