Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:29-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.

30. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?

31. Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

32. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.

33. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.

34. Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ’n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.

35. En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los.

36. En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring: Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede!

37. Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei.

38. En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was.

39. Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek.

40. En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16