Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:27-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ’n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.

28. Maar Paulus het met ’n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.

29. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.

30. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?

31. Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

32. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.

33. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.

34. Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ’n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.

35. En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16