Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:2-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium.

3. Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ’n Griek was.

4. En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou.

5. En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.

6. En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig.

7. En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie.

8. So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom.

9. EN Paulus het ’n gesig in die nag gesien — daar staan ’n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!

10. En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.

11. Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis,

12. en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ’n kolonie. En ons het in hierdie stad ’n paar dae deurgebring.

13. En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ’n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.

14. En ’n vrou met die naam van Lídia, ’n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ’n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.

15. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.

16. En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ’n slavin met ’n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.

17. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.

18. En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.

19. En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep

20. en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is,

21. en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.

22. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16