Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:19-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep

20. en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is,

21. en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.

22. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan.

23. En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak.

24. Hy het toe, omdat hy so ’n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.

25. En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.

26. En skielik kom daar ’n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.

27. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ’n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.

28. Maar Paulus het met ’n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.

29. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.

30. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16