Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:13-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ’n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.

14. En ’n vrou met die naam van Lídia, ’n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ’n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.

15. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.

16. En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ’n slavin met ’n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.

17. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.

18. En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.

19. En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep

20. en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is,

21. en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.

22. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan.

23. En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak.

24. Hy het toe, omdat hy so ’n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.

25. En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.

26. En skielik kom daar ’n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.

27. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ’n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.

28. Maar Paulus het met ’n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.

29. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.

30. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?

31. Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

32. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16