Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:10-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. met ’n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.

11. En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.

12. En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was.

13. En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.

14. Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep

15. en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

16. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel,

17. al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.

18. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.

19. Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.

20. Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek.

21. En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ’n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë,

22. en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

23. En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.

24. Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië;

25. en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië.

26. En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het.

27. En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ’n deur van geloof vir die heidene geopen het.

28. En hulle het daar by die dissipels ’n geruime tyd deurgebring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14