Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:18-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.

19. DIE wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen.

20. En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het.

21. En die hand van die Here was met hulle, en ’n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.

22. En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë.

23. Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly;

24. want hy was ’n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ’n aansienlike skare is aan die Here toegebring.

25. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring.

26. En hulle het ’n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ’n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.

27. En in dié dae het daar profete van Jerusalem na Antiochíë afgekom.

28. En een van hulle met die naam van Ágabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ’n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.

29. En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon.

30. En dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11