Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het.

2. En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis

3. en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.

4. En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê:

5. Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in ’n verrukking van sinne het ek ’n gesig gesien: ’n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos ’n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom.

6. En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel.

7. En ek hoor ’n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!

8. Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.

9. En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.

10. En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel.

11. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was.

12. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11