Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN daar was in Cesaréa ’n man met die naam van Cornelius, ’n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.

2. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.

3. Hy het duidelik in ’n gesig omtrent die negende uur van die dag ’n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!

4. En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.

5. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word.

6. Hy is tuis by ’n sekere Simon, ’n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.

7. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en ’n vroom soldaat van die wat altyd by hom was,

8. en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.

9. En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid;

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10