Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 1:10-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,

11. wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

12. Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ’n sabbatsreis ver.

13. En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bovertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, naamlik: Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas, Filippus en Thomas, Bartholoméüs en Matthéüs, Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon, die Yweraar, en Judas, die seun van Jakobus.

14. Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ’n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.

15. EN in dié dae het Petrus in die midde van die dissipels opgestaan — die skare van persone daar bymekaar was omtrent honderd-en-twintig — en gesê:

16. Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het;

17. want hy is saam met ons getal gereken en het die lot van hierdie bediening verkry.

18. Hy het dan ’n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort;

19. en dit het bekend geword aan al die inwoners van Jerusalem, sodat daardie stuk grond in hulle eie taal Akeldáma genoem is, dit is Bloedgrond.

20. Want daar staan geskrywe in die boek van die Psalms: Laat sy woonplek woes word, en laat daar geen inwoner in wees nie! En: Laat ’n ander een sy opsienersamp neem.

21. Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in- en uitgegaan het,

22. van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is — van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.

23. En hulle het twee voorgestel: Josef wat genoem is Bársabas, met die bynaam van Justus, en Matthías.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 1