Ou Testament

Nuwe Testament

Galásiërs 5:16-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;

17. want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

18. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

19. En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;

20. afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;

21. afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

22. Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

23. Teen sulke dinge is die wet nie.

24. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.

25. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

26. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

Lees volledige hoofstuk Galásiërs 5