Ou Testament

Nuwe Testament

Galásiërs 3:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. o, ONVERSTANDIGE Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?

2. Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

3. Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?

4. Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!

5. Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

6. Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.

7. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.

8. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.

9. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.

10. Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

11. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

12. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.

13. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang —

Lees volledige hoofstuk Galásiërs 3