Ou Testament

Nuwe Testament

Galásiërs 1:11-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie.

12. Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus.

13. Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;

14. en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ’n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.

15. Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het,

16. om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie,

17. en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.

18. Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly;

19. en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.

20. En wat ek julle skryf — voor die aangesig van God, ek lieg nie!

21. Daarna het ek gekom in die streke van Sírië en Cilícië;

22. en ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa;

23. hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei.

24. En hulle het God verheerlik in my.

Lees volledige hoofstuk Galásiërs 1