Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 2:12-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;

13. want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

14. Doen alles sonder murmurering en teëspraak,

15. sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,

16. deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ’n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.

17. Maar al word ek as ’n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal;

18. en om dieselfde rede moet julle ook bly wees en julle saam met my verbly.

19. EN ek hoop in die Here Jesus om Timótheüs gou na julle te stuur, sodat ek ook welgemoed kan wees as ek julle omstandighede te wete gekom het.

20. Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie;

21. want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie.

Lees volledige hoofstuk Filippense 2