Ou Testament

Nuwe Testament

Efésiërs 6:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.

2. Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met ’n belofte —

3. sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.

4. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

5. Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus;

6. nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen

7. en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie,

8. omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ’n slaaf is of ’n vryman.

9. En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.

10. EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

11. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

12. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

13. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

14. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,

15. en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.

Lees volledige hoofstuk Efésiërs 6