Ou Testament

Nuwe Testament

Efésiërs 4:4-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping;

5. een Here, een geloof, een doop,

6. een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.

7. Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus.

8. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee.

9. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?

10. Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.

11. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,

12. om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus,

13. totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;

14. sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

15. maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,

16. uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

17. DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie —

18. mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;

19. wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.

20. Maar julle het Christus nie so leer ken nie,

21. as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus:

22. dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

Lees volledige hoofstuk Efésiërs 4