Ou Testament

Nuwe Testament

Efésiërs 2:10-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

11. DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,

12. dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.

14. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

15. deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep

16. en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

17. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;

18. want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.

19. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,

20. gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,

21. in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here,

22. in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees.

Lees volledige hoofstuk Efésiërs 2