Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 1:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. SÍMEON Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ’n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus:

2. Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!

3. IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,

4. waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

5. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,

6. en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,

7. en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

8. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;

9. want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.

10. Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 1