Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korinthiërs 8:6-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. sodat ons Titus versoek het dat hy, net soos hy tevore begin het, so ook by julle nog hierdie liefdedaad moet volbring.

7. Maar soos julle in alles oorvloedig is — in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons — sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is.

8. Ek sê dit nie as ’n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.

9. Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

10. En ek gee in hierdie saak my oordeel, want dit is voordelig vir julle, omdat julle alreeds ’n jaar gelede begin het, nie alleen om te doen nie, maar ook om te wil.

11. Maar voltooi nou die daad ook, sodat, net soos die bereidheid om te wil daar was, so ook die voltooiing kan wees uit wat julle besit.

12. Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie.

13. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie,

14. maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees.

15. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korinthiërs 8