Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korinthiërs 11:12-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Maar wat ek doen, sal ek nog doen om die aanleiding af te sny vir die wat ’n aanleiding wil hê, sodat hulle in die saak waar hulle op roem, net soos ons bevind mag word.

13. Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.

14. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.

15. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

16. WEER sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as ’n dwaas, sodat ek ook ’n bietjie kan roem.

17. Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem.

18. Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem.

19. Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is!

20. Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.

21. Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf — ek spreek in dwaasheid — ek durf ook.

22. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook.

23. Is hulle dienaars van Christus? — ek praat in uitsinnigheid — ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels.

24. Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.

25. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring —

26. dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;

27. in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.

28. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.

29. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ’n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?

30. As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem.

31. Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korinthiërs 11