Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. PETRUS, ’n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië,

2. uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

3. GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,

4. sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons

5. wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.

6. Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,

7. sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

8. vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap,

9. en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

10. Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,

11. en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.

12. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

13. DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

14. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1