Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 8:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.

2. As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ’n mens behoort te weet nie.

3. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.

4. Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.

5. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is — soos daar baie gode en baie here is —

6. tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

7. Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as ’n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel.

8. Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie.

9. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ’n struikelblok word vir die wat swak is nie.

10. Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in ’n afgodstempel, sal sy gewete, as hy ’n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie?

11. En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis?

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 8