Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 16:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WAT die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.

2. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.

3. En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.

4. En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.

5. MAAR ek sal na julle kom nadat ek deur Macedónië gereis het, want ek gaan deur Macedónië.

6. En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis.

7. Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om ’n tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.

8. Maar ek sal in Éfese bly tot Pinkster toe.

9. Want ’n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.

10. En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek.

11. Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.

12. Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is.

13. Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.

14. Laat alles by julle in liefde geskied.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 16