Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 14:6-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur ’n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?

7. Net soos met lewelose dinge wat ’n klank gee, ’n fluit of ’n siter, as hulle nie ’n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal ’n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word?

8. Want as die basuin ook ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?

9. Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ’n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.

10. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.

11. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ’n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ’n vreemdeling wees.

12. So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.

13. Daarom moet hy wat in ’n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.

14. Want as ek in ’n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.

15. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.

16. Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ’n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?

17. Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 14