Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 14:2-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

3. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging.

4. Hy wat in ’n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.

5. Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.

6. Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur ’n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?

7. Net soos met lewelose dinge wat ’n klank gee, ’n fluit of ’n siter, as hulle nie ’n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal ’n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word?

8. Want as die basuin ook ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?

9. Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ’n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.

10. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.

11. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ’n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ’n vreemdeling wees.

12. So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.

13. Daarom moet hy wat in ’n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.

14. Want as ek in ’n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.

15. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.

16. Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ’n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?

17. Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.

18. Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal;

19. maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tienduisend woorde in ’n taal.

20. Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand.

21. In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.

22. Die tale is dus ’n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 14