Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 14:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. JAAG die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer.

2. Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

3. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging.

4. Hy wat in ’n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.

5. Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.

6. Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur ’n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?

7. Net soos met lewelose dinge wat ’n klank gee, ’n fluit of ’n siter, as hulle nie ’n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal ’n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word?

8. Want as die basuin ook ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?

9. Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ’n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.

10. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.

11. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ’n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ’n vreemdeling wees.

12. So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 14