Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 12:2-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is.

3. Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

4. Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;

5. en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;

6. en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.

7. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.

8. Want aan die een word deur die Gees ’n woord van wysheid gegee, en aan die ander ’n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;

9. aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;

10. aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale.

11. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

12. WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.

13. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

14. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.

15. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?

16. En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?

17. As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees?

18. Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het.

19. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees?

20. Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 12