Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 11:14-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Of leer ook die natuur self julle nie dat as ’n man lang hare dra, dit vir hom ’n oneer is nie;

15. maar as ’n vrou lang hare dra, dit vir haar ’n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ’n bedekking?

16. Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so ’n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie.

17. MAAR terwyl ek dit beveel, kan ek dit nie prys nie dat julle saamkom, nie ten goede nie maar ten kwade.

18. Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.

19. Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.

20. As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie.

21. Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk.

22. Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.

23. Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;

24. en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.

25. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

26. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

27. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.

28. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 11