Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 4:8-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

9. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.

10. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.

11. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

12. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.

13. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.

14. En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.

15. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God.

16. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

17. Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.

18. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

19. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

20. As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?

21. En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 4